Skip to content

Terugploeg se verwerkings- en bergingsfasiliteit het ses maande gelede ’n nuwe bestuurder verwelkom.  Johann Limbach vertel hoekom sy werk vir hom betekenisvol is.

Waar het jy gewerk voordat jy by Terugploeg aangesluit het?

Voordat ek by Terugploeg begin het, het ek as ’n kelner gewerk, wat my geleer het hoe om goeie verhoudings met kliënte te bou en hoe om hoëdruk-situasies te hanteer. Ek ken vir Liauné Goedhals, Atterbury Trust se gemeenskapskoördineerder, en ek het by haar gehoor van die geleentheid by Terugploeg. Ek het aansoek gedoen, en in September 2025 by die Terugploegspan aangesluit. Ek het ’n vleisverwerkingskursus gedoen en ons slaghuis is weer 100% aan die gang. Ons kry af en toe vleis om te verwerk, maar sien uit na ’n besige 2026 jagseisoen.

Hoe lyk ’n tipiese dag daar by Terugploeg?

Elke dag lyk anders! Dit wissel van die oplaai van donasies tot die uitsortering van klere en die verwerking van vleis. Die verskeidenheid hou die werk altyd interessant en gee my die geleentheid om in verskillende areas van die organisasie betrokke te wees.

Hoeveel van julle is nou daagliks werksaam by die fasiliteit?

Tans is ons vier. Ek en Branden (van Meyeren) hanteer al die daaglikse bedrywighede van die voedselverspreiding en vleisverwerking. Daar is ook twee werkers wat die fasiliteit skoon en netjies hou en na die tuine en grasperke omsien.

Wat was vir jou die lekkerste dag sover sedert jy daar begin werk het, en hoekom?

Dit was die eerste keer toe ek almal ontmoet het van die organisasies aan wie ons kos uitdeel. Die dankbaarheid van almal het my laat besef watter groot voorreg dit is om deel te wees van hierdie ongelooflike organisasie.

Dit moet baie bevredigend wees om soveel mense te kan help by Terugploeg. Het jy een storie wat uitstaan?

Ek kry weekliks foto’s, video’s en briewe van dankbaarheid vanaf die begunstigde organisasies. En as ek een storie moet uitsonder, was dit toe ons vir ‘n 10-jarige meisie hokkie-toerusting kon gee. Die blydskap op haar gesig het my hele week gemaak!

Wat is op die skedule by Terugploeg vir die volgende maand of twee – enige hoogtepunte wat jy kan uitsonder?

Die groot een is maar die jagseisoen wat om die draai is. Ons is klaar besig om te begin adverteer en meer mense bewus te maak van ons slaghuis en wildsverwerking. Ons hoop om jagters se vleis te verwerk maar dit ook so maklik as moontlik vir mense te maak om hulle jagvleis te skenk. Proteine is ‘n groot uitdaging vir organisasies vanweë die koste en om wildsvleis te skenk haal ons ‘n groot finansiële las van hierdie organisasies af.

Wat reken jy is die volgende stap om Terugploeg verder te ontwikkel – het jy dalk al enige nuwe moontlikhede raakgesien van jy daar begin het?

Iets waarop ek probeer fokus is om meer mense bewus te maak van Terugploeg, en ek dink ons kan altyd meer daarvan doen. Hoe meer mense bewus is van ons, hoe meer skenkings kan ons kry om ander weer te help. Ons is tans besig met ’n nuwe projek waar ons studente gaan help om hulle bestuurslisensie te kry en dit is iets waarna ek baie uitsien.

En laastens, wie is Johann as hy by die huis is?  Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

Ek is baie rustig en geniet dit om te kuier met vriende en familie. Ek is nie getroud nie, en was nog altyd baie aktief – op die oomblik is ek hard aan die oefen vir die Comrades Marathon!

Om meer uit te vind oor Terugploeg se vleisverwerkingsdienste gedurende die jagseisoen, skakel +27 662831786 of epos info@terugploeg.co.za