Terugploeg
‘n Jaar van groei en gee
Jeanne van der Sande het ’n jaar gelede by Terugploeg begin werk as koördineerder. Sy vertel ons van haar jaar op die grond by Terugploeg.
Toe jy in 2022 instap by hierdie nuwe pos, wat was jou prioriteite met wat jy wou bereik, en hoe vergelyk die werklikheid vandag met daardie verwagting? Ek het ’n jaar gelede begin werk by Terugploeg en het gehoop dat ek die vermoë het om Lood en Herman se droom te kan laat groei en uitbrei. Ek wou regtig ’n positiewe verskil maak. Ek het nou net gou gaan help kos laai vir ’n kinderhuis en dis onbeskryflik lekker om hulle bussie te kan vol laai en daai dankbare, gelukkige gesigte te kan sien en in jou hart te weet, met die ondersteuning van groothartige boere kan Terugploeg gee met oordaad. Terugploeg maak ’nwerklik verskil met hulp wat werk! Wat was vir jou die grootste uitdaging oor die afgelope jaar? Ek moes Terugploeg op ’n geloofwaardige en deursigtige wyse bestuur. Dit was ’n kwessie van goeie organisasie en kommunikasie met al die organisasies. Die werklike behoefte van elk is bepaal en kos word nou dienooreenkomstig uitgedeel. Ek dink die stelsel wat ek sover geïmplementeer het, werk en die laaste paar maande ontvang Terugploeg ook meer skenkings van donateurs sodat Terugploeg amper op ’n gereelde basis kos kan voorsien aan organisasies. Die skenkings is nou so konsekwent dat hier amper permanente voorraad is van groente, vrugte en vleis. Organisasies kan nou op ‘n gereelde basis staatmaak op Terugploeg-donasies. En wat was vir jou die lekkerste deel van die werk? Die uitdeel van kos en die wete dat mens opheffingswerk doen by mense wat werklik nood het. Die ander wonderlike deel van werk by Terugploeg is die bestuur van die mense wat hier werk. Ek probeer hulle leer om my voorbeeld te volg sodat almal die standaard wat daar gestel is, nastreef in hul werk. Ek wil graag hê dat mense wat hier werk regtig trots moet wees op dit wat hulle doen en elke dag hier regtig geniet, selfs al is dit net mense van ARC wat ons op ’n tydelike basis uithelp. Deel bietjie met ons die statistieke van wat, waar en hoeveel Terugploeg bereik het. Waarop is jy die trotsste? Dit is ongelooflik om te dink dat daar vanaf verlede jaar Augustus tot nou meer as 100 ton voedsel uitgedeel is. Dit is nou alles van tonne koeldranke, groente en vrugte, tot mieliemeel en voedsame vleis. Die verblydendste vir my is egter dat ons nou baie meer wildsvleis en nou ook beesvleis inkry om uit te deel. Dit is nie net die toename in vleisverwerking vir jagters nie, maar ook die feit dat ons jagtervriende met soveel oorgawe skenk. Daar is hierdie jagseisoen al meer as 10 ton wildsvleis verwerk waarvan byna vier ton uitgedeel is. Dit is sulke gesonde proteïen wat voorheen glad nie so gereeld vir die liefdadigheidsiorganisasies beskikbaar was nie. Waarmee is julle tans besig, en wat is die huidige prioriteite vir die organisasie? Ons is baie opgewonde oor die nuwe groenteprojek wat ons in samewerking met Dirkl van der Walt se Aquafer Stigting aanplant. Dit beteken dat daar deurlopend ook groente wat organies verbou word, by die vleis sal wees wat ons kan uitdeel. Ons het onlangs ook ’n boomplantdag hier by Terugploeg gehad waar 40 sitrusbome wat deur Plantland met die bemiddeling van GrootFM90.5 geskenk is – ons het nou ’n mooi sitrusboord! Dis regtig fantasties om die hele tyd sulke nuwe toevoegings by Terugploeg te kan help organiseer. En hoe lyk die pad vorentoe vir Terugploeg – wat wil jy graag in die volgende jaar sien gebeur? Ek dink die boerdery-deel hier by Terugploeg gaan uitbrei van kompos maak tot uiteindelik groente kweek en die konstante uitdeel van vleis. Hoe meer daar is, hoe meer kan ons uitdeel.Ons gaan ook hopelik werk kan verskaf aan mense van die liefdadigheidsorganisasies. Dit is vir ons belangrik om mense se menswaardigheid te verhoog en dit is verblydend dat mense bemagtig word hier by Terugploeg. As mense belangstel om betrokke te raak, wat is die opsies, en hoe hoor hulle meer? Behalwe kos, deel Terugploeg ook en klere en gebruikte huishoudelike ware uit en ons deure is altyd oop vir enige skenkings. Enige finansiële bydra is natuurlik ook welkom, deur die gewone Atterbury Trust kanale – sien Donasiewinkel. Kontak my gerus per epos by jeanne@terugploeg.co.za as jy enige skenking wil maak.Terugploeg en Faces se nuwe avontuur-park
Terugploeg se vleis-fundi vertel
Waar kom jou liefde vir die vleisbedryf vandaan en hoe het jy by Terugploeg beland?
Ek is in Zimbabwe gebore en ná universiteit in Suid Afrika is ek terug Zim toe waar ons met beeste en wild geboer het. Ek en Jeanne is in 1991 getroud en het ’n jagbesigheid begin, waarna ek vir 13 jaar professioneel gejag het. Die Europese jagmark was ons teikenkliënte, en daar is baie grootwild gejag, wat ons van die begin af met die hand bewerk het – ons het nooit wildsvleis gemors nie. In 2005 met die politieke ontstuimigheid, het ons met ons drie dogters Suid-Afrika toe getrek, waar ek by Feinschmecker se delikatesse-onderneming aangesluit en hul produksie van vleisprodukte hanteer het. Ek het baie van vleisverwerking geleer by ‘n jagkliënt uit Duitsland; die vervaardiging van salamis, pancettas en so meer. Daarna was ek by Eskort waar ek hul winkels behartig het, en so kleinhandelondervinding opgedoen het.
Wildspryse het in 2016 baie begin daal en ek het geweet dat wildsveisverwerking baie afgeskeep word, so toe sien ek die geleentheid en raak betrokke by die bou van ’n vleisverwerkingsfasiliteit in Silverton, spesifiek vir wildsvleis. Ons het vleis verwerk vir individuele jagters en vir korporatiewe jaggroepe, en baie lekker produkte daar ontwikkel – carpaccio, salami, spek, ham van vlakvark, ensomeer – wat ons dan ook aan lodges verskaf het. Ons het die besigheid net voor Covid verkoop en ek het toe vir Enterprise gekonsulteer. So ja, die vleisbedryf was nog altyd deel van my lewe! Wat Terugploeg betref, is ek en Jeanne jarelange vriende met Zahn Hulme en haar man, Alten, en toe Zahn ons vra om ons kundigheid by Terugploeg te kom inspan, het ons albei graag betrokke geraak. Jeanne is die koördineerder daar.
Hoekom spesifiek wildsvleis?
Stadsmense het selde toegang tot wildsvleis en Terugploeg bring wildsvleis stad toe, en binne die bereik van mense wat nie hierdie gesonde proteïenbron kan bekostig nie. Ek is van die oortuiging dat wildsvleis by verre die gesondste vleis is wat vandag beskikbaar is – daar is geen antibiotika of hormone betrokke nie en die dier loop vry in die natuur. En ook, omdat Terugploeg staatmaak op skenkings, is dit relevant dat wild meer bekostigbaar is om te skenk as byvoorbeeld ’n bees, wat soveel hoër insetkoste het vir die boer.
Die jagseisoen is op ons en Terugploeg doen nou ’n beroep op jagters – vertel ons meer?
Die jagseisoen begin inderdaad dié maand – die meeste aanwas is teen dié tyd gespeen – en die hoogtepunt is Junie tot Augustus. As dit droër is en die blare geval het, is die sig beter. Jag vind oral in die land plaas, en dit hou wildboere aan die gang. So ons adverteer nou by jagters, en bied ons dienste aan om hulle vleis hier by Terugploeg se verwerkingsaanleg vir hulle te verwerk, ten einde geld te genereer om nog vleis te kan aankoop. As hulle meer geskiet het as wat hulle kan gebruik, of trofeejagters is, kan hulle die karkasse vir ons skenk, en as hulle nie die bene wil hê nie, aanvaar ons dit ook graag. Dit is wel baie belangrik dat wildsvleis reg voorberei word pas ná die jag.[/vc_column_text][vc_row_inner][vc_column_inner width=”1/2″][vc_column_text uncode_shortcode_id=”152969″]Wat is die geheim – gee julle vir jagters voorskrifte?
Wat in die veld gebeur is baie belangrik vir die smaak van die vleis. Dit het te doen met die manier van jag en ook wat direk daarna gebeur. Adrenalien speel ’n groot rol in enige vleis – dit maak die vleis taai en gee veral wildsvleis ’n onaangename reuk. So die vleis van diere wat gejaag is met bakkies en van daar af geskiet word, is ’n heeltemal ander storie as ’n bok wat te voet gejag word en minder stres ervaar. As ’n bok geskiet is, moet hy so gou moontlik uitgebloei word en die binnegoed moet uitgehaal en die karkas afgekoel word met water. En sodra die jagters by ’n slagfasiliteit kom, moet die karkas vel en al afgespuit word om dit te was en verder te verkoel. Ons stel voor dat die vel vir ’n dag of twee aangelos word omdat dit keer dat die vleis uitdroog. Wild het nie die vetlaag wat beeste het nie, so dit droog baie vinnig uit. (Wanneer dit kom by die verwerking van wildsvleis, aanvaar geen verwerkers karkasse wat nog die vel aanhet nie.) Skootplasing is ook belangrik vir die jagter, want daar is baie vleisverlies as die dier in die buik getref word – jy kan niks met daardie vleis doen nie.
Hoeveel wildsvleis (in kg of aantal karkasse?) hoop julle om met hierdie oproep bymekaar te kry, en hoeveel maaltye sal dit vir Terugploeg beteken?
As ons so 12 ton vleis kan kry (omtrent 120 diere) sal ons rondom 120 000 etes kan verskaf. By Terugploeg se slagpale sny ons die vleis van die bene af, maal die vleis en verpak in 100g porsies. Ons verpak die vleiserige bene vir bredies en sop. En reg voorberei, kan bevrore vleis gevries so lank as 18 maande geberg word. Ons sal so dan voorraad hê wat baie honger mae met gesonde proteïen kan vul.
Hoe gaan dit werk – as iemand wil jag en bydra, wat moet hulle doen? Hoe kom geskenkte vleis by die Terugploeg-fasiliteit uit?
Jagters kan ons kontak by info@terugploeg.co.za en 066 283 1786; ons sal selfs kom oplaai by plase binne ’n radius van 450km indien daar genoeg vleis van die regte gehalte geskenk word. Mense wat nie self jag nie, maar wat byvoorbeeld bokke beskikbaar het, kan ons kontak, en ons kan dan ’n jag reël en die vleis agterna kry – ons hanteer alles vir die boer. Die idee is om geld te genereer om meer vleis te kan inkoop, want ons kan nie uitsluitlik steun op donasies nie. Boere gee maklik as dit goed gaan, maar op die oomblik is proteïen duur, want voerpryse is baie hoog.[/vc_column_text][/vc_column_inner][/vc_row_inner][vc_column_text uncode_shortcode_id=”186598″]En as ek nie jag of bokke het nie, kan ek steeds bydra?
Ja, beslis, soos ek genoem het, moet ons ook vleis inkoop en daarvoor is donasies baie welkom. Ons het ook al beesvleisdonasies gekry, dit is ook altyd welkom.
Ons verkoop ook van die droëwors en wildsvleis onder Terugploeg se handelsmerk – by Atterbury se kantoor by die Klubhuis in Hazelwood en ook eersdaags by Atterbury Trust se kantoor by La Gratitude in Stellenbosch. Dis ’n advertensie vir die kwaliteit vleisverwerking wat ons by Terugploeg doen en ons dek ons sodoende ’n gedeelte van die dag-tot-dag operasionele uitgawes om Terugploeg se hulp wat werk aan die gang te hou.
Terugploeg se verwerkingspryse |
|
---|---|
Basiese prosessering/breek van karkasse (biltong ingesluit) |
R13/kg |
Droëwors, Derms en Beesvet | R35/kg |
Biltong (droog) | R13/kg |
Droëwors (droog) | R13/kg |
Wildswors | R45/kg |
Dunderms | R50/kg |
Maalvleisverpakking | R5/kg |
Alle verpakking (vakuumverpak) | R5/kg |
Burger patties | R35/kg |
Kontak Terugploeg by info@terugploeg.co.za of 066 283 1786 vir meer inligting.
Vele hande maak Terugploeg werk
Soos Terugploeg groei, groei die behoeftes en ook die kennis oor hoe om die meeste te maak van al die wonderlike donasies en welwillendheid van baie mense. Danksy Terugploeg se nuwe koördineerder, Jeanne van der Sande, draai die wiele daagliks gladder.
Vertel ons hoe die paadjie geloop het wat jou by Terugploeg gebring het?
My pad het met Terugploeg gekruis danksy my en my man, Diets, se vriendskap met Zahn en Alten Hulme. Diets het in Duitsland die spesialiskuns van vleisverwerking bemeester en het jarelange ondervinding en kundigheid in die Suid-Afrikaanse bedryf waar hy onder andere by Feinschmecker, Eskort en Enterprise gewerk het. Zahn het voorgestel dat Diets by Terugploeg betrokke raak en adviseer by die nuwe slaghuis se wildsverwerkingsfasiliteit Toe ek sien waaroor Terugploeg alles gaan, het ek dadelik geweet ek wil ook betrokke raak en help met die dag-tot-dag bestuur. Toe Ananja Koen my net daarna vra om juis dít te doen, het ek dadelik ja gesê!
Ek het nogal ’n interessante loopbaan gehad van marknavorsing net na my Huishoudkunde graad aan die Universiteit van Pretoria tot boervrou in die laeveld van Zimbabwe. Dis hier waar ek ontwikkel het om te kon help met die bestuur van groot bees- en wildsplase, maar ook om in die wildskamp gourmetkos vir ons Duitse jagkliënte te kon aanbied. Ek moes baie dinge organiseer. Ek het hier my Duits opgeskerp en by die Europese nasie geleer as jy iets doen, doen dit na die beste van jou vermoë. Dit gee net soveel selfvertroue om te weet mens doen iets goed. Ek het die span werkers op ons plaas en sommer vir my kinders ook gewys om passievol alle uitdagings van die lewe met moed aan te pak en dat sukses lei tot selfvertroue.
Wat is dit omtrent Terugploeg wat jou aangetrek het?
Ek bestuur graag mense om hul beste te bereik en eintlik vir hulle te wys waartoe hulle in staat is, en dat alles moontlik is met harde werk en toewyding.
Ek vereenselwig myself met alles waarvoor Terugploeg staan: ek gee graag en ek help graag, gee aan dié wat minder het, en deel; dis regtig my motto in die lewe. Dis ’n groot voorreg om deel van Atterbury Trust se Terugploegspan te wees. Ek glo dat as ons by Terugploeg die donasies op die regte manier uitdeel sal dit net van krag tot krag gaan.
Wat behels jou rol alles? Hoe lyk ’n tipiese dag?
My rol as koördineerder is hoofsaaklik om te kommunikeer met die begunstigde organisasies oor die afhaal van produkte by Terugploeg, en om dit te bestuur en organiseer. Dis ’n kwessie van beplanning, en dan skeduleer ek net die oplaai en hou deeglik rekord van wat inkom en uitgedeel word.
Terugploeg is nog nuut en ek is seker daar is gereeld nuwe uitdagings wat uitgestryk moet word. Vertel ons van so een, en hoe jy dit aangepak en opgelos het?
Die groot uitdaging by Terugploeg was om ’n georganiseerde stelsel in plek te kry sodat almal weet wat om te doen en hoe om dit te doen sodat die dag en die take vlot verloop. ’n Voorbeeld was toe die vleisverwerkingseenheid oopgemaak het, moes die blokmanne die skoonmaak- en gesondheidsreëls van ’n slaghuis geleer word, en daar moes gesorg word dat hulle dit effektief toepas. Dit is nou alles in plek.
Wat geniet jy die meeste omtrent die werk? Kan jy dink aan een onlangse insident wat dit vir jou opsom?
Dit is elke keer so lekker om die produkte wat ons by ons groothartige borge kry, te kan gee aan mense wat dit werklik nodig het, en dan om soveel mooi dankie e-posse, oproepe en Whatsapps te ontvang. Dit doen iets vir die hart om daardie absolute dankbaarheid vir die donasies en die hulp wat gegee word te sien, en te besef ons maak werklik ’n verskil.
Vertel ons iets oor jou gesinslewe en wat julle graag as gesin saam doen.
Ek en Diets is 30 jaar getroud en was 13 jaar in Zimbabwe. Daarna moes ons in Pretoria weer van vooraf begin met nuwe beroepe. Ons het albei begin werk by die vleishandelaar Feinschmecker In Germiston, wat danksy ons Duitse konneksies op ons radar gekom het, en dit was die begin van ons loopbane in die vleisbedryf. Ons het drie dogters – die oudste twee is albei geoktrooieerde rekenmeesters; oudste in Amsterdam en die tweede hier by PwC in Johannesburg. Ons jongste woon in Kaapstad en werk by ’n tegnologiefirma. Ons as gesin kuier graag in Afrika; ons is so lief vir die natuur, wild en voëllewe en is baie saam in die wildtuin, maar ook soms saam by die see. Ons gaan nou juis einde Oktober Victoria Watervalle toe om Diets se 60ste verjaarsdag te vier. Ons is almal passievol oor die lewe en die Skepping en die ongerepte natuur van Zimbabwe.
’n Bestuurder se Kans om terug te ploeg
Die groot harte agter Terugploeg
Terugploeg se hulp wat werk
Die COVID-19 pandemie het baie swaarkry voor Suid-Afrikaners se deure gelê, maar dit het ook wonderlike inisiatiewe van naasteliefde en omgee tot gevolg gehad.
Terugploeg is een so ’n idee wat nou tot sy volle reg gekom het. Volgens Lood Bester, mede-stigter van Terugploeg, is hierdie konsep gebore in gesprekke tussen hom en sy vriend Herman Marx van Vibro Bricks. Bester sê toe hulle gedurende die inperking bewus geraak het van die enorme kosnood in sekere Afrikaanssprekende gemeenskappe en dat daar vir hulle geen hulp beskikbaar gestel is nie, wou hulle graag help. “Reg aan die begin het ons kos aangekoop, wat ons dan self in van hierdie gemeenskappe rondom ons versprei het. Later het ons gaan aanklop by ons boere-vriende om ons idees met hulle te deel. Almal het dadelik ingestem om vir ons kos te skenk. So stuur ons byvoorbeeld deesdae een van Herman se trokke na ’n plaas toe, wat ons skenkers vol laai met tussen 3 en 8 ton groente of vrugte. Dit word daarna by Vibro Bricks in Pretoria afgelaai. Daar word die kos verdeel in kleiner porsies, op bakkies gelaai en verder versprei onder ouetehuise, kinderhuise en skole wat ons geïdentifiseer het, waar daar spesifiek kosnood is.” Terugploeg is ’n netwerk van weldoeners wie se skenkings verantwoordelik bestuur word om eerstens kos te verskaf aan weerlose Afrikaanse gemeenskappe en honger te bestry. Maar daar bestaan ook ’n groter droom – dat dit ’n volhoubare projek word wat ook werk kan verskaf aan mense uit hierdie gemeenskappe, sodat hulle weer kan hoop en droom van ’n beter toekoms. Hoop, respek, vaardighede en geleenthede is geweldig belangrik vir hulpbehoewendes. Volgens Zahn Hulme, uitvoerende trustee van Atterbury Trust, pas die Terugploeg inisiatief gemaklik in by die ander liefdadigheidsprojekte wat vanuit die trust bestuur word. “ ’n Maand of wat nadat Lood en Herman die inisiatief van stapel gestuur het, het hulle met die Atterbury Groep se hoof uitvoerende beampte Louis van der Watt ooreengekom om Terugploeg vanuit Atterbury Trust te bestuur.“Die voordeel van die verbintenis is dat die trust meer as twee dekades se ervaring van liefdadigheids-projekadministrasie het, asook die infrastruktuur om sulke teruggee-projekte effektief te bestuur. Ons is ook trots op ons reputasie vir betroubaarheid en deursigtigheid.”Terugploeg het so vinnig gegroei dat hulle reeds uit hul nate bars. “Ons het gou besef dat ons ’n goed toegeruste en maklik toeganklike perseel nodig het sodat ons groot hoeveelhede kos op een slag kan ontvang, kan verwerk indien nodig, en kan berg tot tyd en wyl ons dit wil uitdeel,” verduidelik Bester. “Ons het agtergekom dat as dit kom by voedingsprogramme is die kontinuïteit van ’n bord kos elke tweede dag baie belangriker as ’n hele wavrag kos wat op een slag afgelaai word by iemand wat in ’n Wendyhuisie woon – sonder ’n koelkas. As ’n boer ’n paar beeste of bokke skenk, moet ons dit in maalvleis kan verwerk, en kan stoor sodat ons dit selektief kan uitdeel waar dit nodig is.” Faan en Dirk van der Walt, die stigters van WeBuyCars, het hierdie groot struikelblok uit die pad gerol deur agt hektaar grond in die ooste van Pretoria – teen die N4, digby die Rayton afrit – aan Terugploeg beskikbaar te stel. “Ons kan hierdie perseel nou gratis gebruik om ’n hoofkantoor vir Terugploeg te vestig,” sê Bester. Benewens die kosverwerkings-fasiliteit en koelstoor, word ’n groente- en vrugtetuin beplan, asook ’n klerebank. Bester-hulle beplan verder om braaihout daar te laat sny en verpak vir verkoop. “Al hierdie funksies het hande nodig; om die tuine te versorg, die kos te verwerk, die klere wat ons inkry te sorteer, was en stryk, die vragte hout te verpak in braaipakke… hiermee wil ons werk skep vir die mense uit die gemeenskappe wat ons bedien,” vertel hy opgewonde. Verder word daar beoog om ’n lesingsaal in die gebou in te rig, waarin kursusse en praatjies aanbied kan word om beide skoolkinders en volwassenes te inspireer met praktiese raad en opleiding, sodat hulle ook hul eie omstandighede self kan verbeter. Die opening van die nuwe terugploeg fasiliteit word vir Mei 2021 beplan, met konstruksie wat reeds in Januarie volgende jaar afskop. Terugploeg is formeel op 17 November 2020 in samewerking met mediavennoot GrootFM 90.5 in die Atterbury Teater bekend gestel. Die geleentheid is deur verskeie kommersiële boere, potensiële donateurs en sakelui bygewoon. Hoe die publiek kan help Aangesien die konstruksie van die Terugploeg-gebou binnekort begin, sal skenkings in die vorm van konstruksiemateriaal verwelkom word – bakstene en sement, roldeure, matte, lugversorgers, kombuistoerusting, vleisverwerkingsmasjinerie, ens. Kontant-skenkings is ook welkom. Alle skenkings kwalifiseer vir ’n 18A-belastingsertifikaat uitreik deur Atterbury Trust, om dit belasting-aftrekbaar te maak. As jy kan help, of meer wil weet oor Terugploeg, kontak vir Lood Bester by 082 925 1118 of Jani Doms by 076 313 7212 of epos hulle by lood@terugploeg.co.za of jani@atterbury.co.za Vir kontant-skenkings: Rekening: Atterbury Trust Nedbank: 1497004187 Takkode: 149745