Terugploeg se hoofkwartier wat werk

Die Terugploeg inisiatief het tydens die grendeltyd ontstaan toe Lood Bester en sy vriend Herman Marx van Vibro op ‘n informele basis kos aan behoeftige gemeenskappe uitgedeel het. Die projek het vinnig momentum gekry toe ‘n aantal boere betrokke geraak het en vragte kos afgelewer het. Hierdie tonne kos is informeel met behulp van Vibro se vervoernetwerk versprei, maar daar is besef dat die nood geweldig groot is en daar ‘n volhoubare projek van stapel gestuur moet word. Atterbury Trust is genader en Terugploeg word tans onder die vaandel van Atterbury Trust bestuur.

Volgens Zahn Hulme, uitvoerende trustee van Atterbury Trust, is daar sedert die aanvang van die projek reeds meer as 125 ton kos aan ouetehuise, skole en kinderhuise in en om Pretoria uitgedeel. Dit is die ekwivalent van ongeveer 503000 etes. “Deursigtigheid en verantwoordbaarheid is vir mense belangrik en die Atterbury Trust word reeds sedert 1998 vertrou as ‘n organisasie wat teruggee-projekte doeltreffend bestuur. Ons loop ‘n pad met organisasies en maak seker dat dit behoorlik bestuur word en die hulp by die regte mense uitkom.”

Die Terugploeggebou is opgerig op agt hektaar grond in die ooste van Pretoria – teen die N4, digby die Rayton afrit – wat deur Faan en Dirk van der Walt, die stigters van WeBuyCars, beskikbaar gestel is.

Benewens die kosverwerkings-fasiliteit en koelstoor, word ’n groente- en vrugtetuin beplan, asook ’n klerebank. Mede-stigter van Terugploeg, Lood Bester sê dat ‘n aantal werksverskaffingsinisiatiewe op die perseel beplan word – vleis gaan verwerk word, braaihout gaan gesny, verpak en verkoop word. “Al hierdie funksies het hande nodig; om die tuine te versorg, die kos te verwerk, die klere wat ons inkry te sorteer, was en stryk, die vragte hout te verpak in braaipakke… hiermee wil ons werk skep vir die mense uit die gemeenskappe wat ons bedien,” vertel hy opgewonde.

Verder word daar beoog om ’n lesingsaal in die gebou in te rig, waarin kursusse en praatjies aanbied kan word om beide skoolkinders en volwassenes te inspireer met praktiese raad en opleiding, sodat hulle ook hul eie omstandighede self kan verbeter.

Die amptelike opening van die nuwe terugploeg fasiliteit word vir Januarie 2022 beplan.